Marianne Vorster-Meyer

Resensie deur Marianne Vorster-Meyer

Noem dit ’n pelgrimstog, ’n ontsnapping of bloot ‘n geloofsprong. Bonthuys se debuutroman, Vlug van Gister, verskaf net genoeg inligting om die leser stukkie vir stukkie in te katrol in die lewe van Emma Cilliërs. Haar destruktiewe verhouding met haar man, afwesige ouers en haar afstomping, laat haar glo dat sy bestem is om ’n slagoffer te wees van haar omstandighede in die myndorp, waarin sy al jare vasgekeer voel. Alhoewel die dinamiek tussen Emma en Gert, haar man, dieselfde afwaartse spiraal telkens herhaal, ontaard hul laaste konfrontasie in soveel chaos, dat sy uiteindelik besluit om pad te gee.
Die vernedering, ’n uitsiglose bestaan, haar onvervuldheid, word die motivering vir die najaag van ’n nuwe begin. Elke keuse het ‘n gevolg. Haar blog is die veilige hawe waarin sy haar versugtinge en gewaarwordings eerlik verwoord.

Haar pad Kaap toe word ‘n roete van ontnugtering en ompaaie. Haar pad kruis met die van ‘n aantreklike wewenaar wat met sy eie bagasie worstel. Die platteland is nie ‘n plek wat geheime huisves nie. Haar teenwoordigheid in Stilbaai versprei soos‘n veldbrand en elkeen las hul eie stertjie by. Haar spoke uit die verlede maak haar hede ondraaglik. Jaloesie, liefde en desperaatheid het ‘n prys. Emma word gekonfronteer met dit waarna sy haar lewe lank al smag, maar twee halwes maak nie ‘n hele nie. Sy weet nou daar is ‘n lewe buite die bedompige dampkring van die myndorp, maar wat as sy nie weet hoe om hier, in Stilbaai te oorleef nie. Is sy die een wat nie daar hoort nie.

Bonthuys verdien krediet vir sy insig in die vroulike psige van die protagonis, Emma Cilliërs. Haar eg menslike besluite en selftwyfel in die situasies waarmee sy gekonfronteer word, is realisties en eg. Karakters soos Jack Verf en Loper spruit uit besonderse waarneming en kennis van doodgewone mense. “Partykeer wil mens hê iemand moet net ‘n bietjie luister.” Die dieper menslike versugting vir aanvaarding, is teenwoordig in selfs die minder geliefde karakters in hierdie boek. Dis opvallend dat Bonthuys vertroud is met die taal en sosiale gewoontes van die myndorp waarin die verhaal afspeel. Bv. “Stash jy? Alle vroue stash.” Die leser kry ’n blik op die rituele en mense wat so ’n dinamiek voed. Sy navorsing en karakterbou is deeglik en die leser voel aan die einde deel van hierdie reis saam met Emma Cilliërs.

Vlug van Gister is ‘n boek van hoop, maar met die wete dat daar nie kitsoplossings bestaan nie. Tyd genees nie wonde nie, wel ‘n begeerte om dinge anders te doen.
Deur Marianne Vorster-Meyer (kunstenaar & ma)

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top