Annalize Marx Hills

Resensie deur Annalize Marx Hills

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.


In Jan Bonthuys se boek Vlug van gister staan: “Soms is daar dinge wat ’n mens doen waarvoor jy nie vergoed wil word nie. Daar kom in elke mens se lewe een of ander tyd ’n engel. Dit was nou ons tyd om jou engel te wees…” (bl 210).

Die dag toe Emma besluit het om uit die hel van haar gewelddadige man wat haar amper-amper doodgeslaan het, te vlug, was daar engele op haar pad. Met die bietjie geld wat sy het én Gert se kredietkaart waarop sy tekenregte het, neem sy die motor en stuur dit in die rigting van die Kaap. Dáár sal sy vir haar werk en blyplek soek.

Bonthuys neem die leser op ’n empatiese wyse op reis met ’n vernielde vrou wat haar weg na ’n veilige plek soek. By Bloemfontein besef Emma egter dat Gert haar mag agtervolg deur die kredietkaarttransaksies, en besluit om al die geld te trek. Vreesbevange besluit sy om in ’n winkelsentrum se toilette weg te kruip en daar te oornag. ’n Simpatieke skoonmaker gee haar kans om haarself skoon te kry. “Was gou by die wasbak. Ek sal kyk dat niemand inkom nie” (bl 40).

Wanneer sy amper Stilbaai bereik, breek haar motor. Rosy is die engel wat haar na die plaas, Uitkomst, lei (bl 55). Haar redding kom deurdat Dewald, ’n jong wewenaarboer, vir haar huisvesting aanbied totdat haar motor herstel is.

Die leser se aandag word skielik geprikkel deur Dewald wat onverwags buite sy aard optree.

“Is hy altyd so onbeskof?”
“Hy is maar deur ’n swaar tyd” (bl 56).

Die tempo is vinnig. Dit storm in die rigting van ’n listige vrou, ’n vriendin van Dewald se oorlede vrou wat steeds teister.

Dan slaan die remme aan en storm in die teenoorgestelde rigting. Gert is warm op haar spoor.

Die verhaal ontpop in ’n spinnerak van gebeure wat geloofwaardigheid aan die karakters en verhaal gee.

Met ’n kinkel in die kabel kry Bonthuys dit reg om die leser se aandag te boei en te hou. Deur flink te dink red Emma vir Dewald uit ’n verknorsing: “Die belegger vir die inmaakaanleg […] hy wil nóú weet wanneer hy ’n afspraak kan kry” (bl 172).

Sal Emma en Dewald die senutergende gebeure wat hulle getref het, kan oorwin en geluk ervaar?

Jan Bonthuys het die gawe om met ’n eenvoudige storielyn ’n roerende verhaal van ’n mishandelde vrou te vertel. Dit noop die leser om dieper te lees en emosies te ervaar wat deur aardse, eenvoudige karakters gesuggereer word en aan sy verhaal ’n diep menslike karakter gee. Sy navorsing is deeglik gedoen en sy taalgebruik weerspieël dié van die karakters.

Vlug van gister is ’n roerende verhaal van ’n vrou wat ondanks haar verlede opgestaan het.

Mag hierdie insiggewende verhaal ’n inspirasie wees vir alle lesers en vroue wat in ’n onnatuurlike verhouding vasgevang is: “Vir jouself is jy wat God jou gemaak het. Vir die wêreld is jy wat die wêreld van jou maak” (bl 185).

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top