“Waaroor gaan die ding, Ma?”
Sy kyk op na hom. Daardie iets delikaats aan sy profiel – die deeltjie van hom waaraan sy haarself herken. Die spanning is ongemaklik. Sy moet dit verby kry.
“Ek gaan jou vertel, maar ek vra mooi, moet my nie veroordeel nie.”
“Ek sal nooit nie. Ma is die beste mens wat ek ken.”
Sy kyk terug huis se kant toe, breek ʼn olyftakkie af en rol dit in haar hand rond. Dewald staan op die stoep, maar sy kan nie sien waarna hy kyk nie. Dalk of daar wolke vorm wat genadereën moet bring.